Back To main menu click here
Home Up

Aartappelbrood

Home
Up

Besonderse aartappel-plaasbrood  
By die eerste oogopslag lyk dit na baie werk, veral omdat die brooddeeg drie keer moet rys. Maar dit is ´n vinnige proses en beslis die moeite werd.

Maak eers die aartappel-kaassmeer en rol in balletjies. Hou in die yskas terwyl die brood berei word.
Kaassmeer-balletjies
300 ml warm fyngemaakte aartappel
50 ml botter
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
1 x 250 g roomkaas of geroomde maaskaas
250 g biltong, fyn gerasper, of 1 blikkie (300 g) soutbeesvleis, goed verkoel en vet verwyder
250 ml fyn gerasperde sterk kaas
150 ml blatjang met biltong of
150 ml mosterd met soutbeesvleis
10 ml worcestersous
10 ml gerasperde suurlemoenskil
20 ml suurlemoensap
10 ml peperwortelsous of pepersous (tabasco of Louisiana Gold)
10 ml aangemaakte mosterd
45 ml gekapte vars pietersielie
ekstra gekapte vars pietersielie, gekapte neute, fyn gerasperde biltong of
fyn gekapte marachino-kersies om balletjies mee te bedek

Meng die aartappel, botter, sout en peper goed saam met die res van die bestanddele behalwe dié waarmee die balletjies bedek word. Vorm een groot bal of maak ´n paar kleineres. Rol in enige van die laaste bestanddeel-variasies. Bedek met kleefplastiek en hou in die yskas tot nodig.

Deeg
6 x 250 ml koekmeel
10 ml sout
1 pakkie (10 g) kitsgis
sowat 500 ml louwarm water
10 ml wit asyn
10 ml gouestroop
75 ml kook- of olyfolie

Bolaag
sowat 8 baba-aartappeltjies
olyfolie
sout en vars gemaalde swartpeper
1 huisie knoffel, gekneus en fyngekap
100 ml gekapte vars roosmaryn
ekstra roosmaryn

Vir die deeg: meng die eerste drie be-standdele in ´n groot bak. Meng die volgende vier bestanddele in ´n aparte bak en voeg die vloeistofmengsel by die meel-mengsel. Knie goed, vorm ´n bal, smeer ´n bietjie olie bo-oor en bedek die bak. Laat rys tot dubbel in volume. Knie af en laat weer rys.

Berei intussen die bolaag: moenie die aartappeltjies skil nie. Sny in baie dun skyfies en plaas drie minute in kokende soutwater. Dreineer en maak droog op kombuispapier of in ´n slaaidroër. Plaas die aartappelskyfies in ´n bak, besprinkel met olyfolie en geur met sout en peper. Voeg die knoffel en roosmaryn by en hou eenkant.
Knie die deeg ´n derde keer af. Verdeel die deeg in twee stukke en vorm twee sirkels, elk sowat 20 mm dik, op ´n bakplaat. Druk die aartappel-bolaag met die vingerpunte in die deeg in sodat die geur van die kruie deur die deeg versprei. Moenie huiwerig wees om die vin- gers te gebruik nie. Die olyfolie van die bolaag smeer ook die deeg met die drukkery.

Opsioneel: growwe sout kan bo-oor gestrooi word. Laat rys op ´n warm plek.

Stel die oond op 190 ºC. Sodra die brood goed gerys het, bak sowat 30 minute in die voorverhitte oond. Sit warm voor met die balletjies aartappelsmeer.