Back To main menu click here
Home Up

By vuur

Home
Up
Pap

BRAAIBROODJIES

BESTANDDELE:

Witbrood, gesny.
Botter.
Tamatie, in skywe gesny.
Uie, ditto.
Sout.
Peper.
Garing.


METODE:

Maak toebroodjies met tamatie, uie, sout en peper op. Bind nou die broodjie met die garing vas, soos wat die meisie by die poskantoor die kaartjie aan 'n pakkie vasmaak, net sonder die rooi goed wat sy oor 'n kers smelt. Om redes wat aanstons duidelik sal wees, moet die garing nie van sintetiese stof soos nylon wees nie.

Die broodjies moet nou op 'n rooster oor kole gebraai word, en dis waar jou probleme begin. Jy moet besluit of jy eers die broodjies, of eers die vleis gaan braai. As jy op die brood besluit, is die kole te warm, en is hy gewoonlik verbrand voor jy hom kan draai. Dis nie die einde van die wêreld nie, 'n ou krap maar die houtskool met 'n messie af. Bid net dat die toutjies nie afbrand nie, anders brand die onderste sny brood op die rooster vas. As hulle nou albei kante mooi gerooster is, en nie te erg verbrand het nie, kan jy die vleis braai.

As jy die vleis eerste braai, sal die kole koeler wees, en dit werk beter vir die broodjie. Die probleem nou is dat jy van te veel wyn 'n bietjie traag kan wees om hulle te draai, dan brand hulle in elk geval ook. As jy om een of ander onverklaarbare rede nie te veel wyn gedrink het nie, sal hulle baie mooi uitkom. Nou sit jy met die probleem dat die vleis intussen koud en taai geword het.

Hoe dit ook al sy, die broodjies is baie lekker saam met braaivleis, en ek het by enkele geleenthede mense van die noordelike provinsies gesien wat daaraan peusel, maar moenie sê ek het so gesê nie!