Back To main menu click here
Home Up

Pap

Home
Up

PAP EN SHEBA
Hierdie dis word daagliks deur miljoene mense in Afrika geniet, dikwels die enigste. Ek het al dikwels swart Suid-Afrikaners wat vir 'n onbepaalde tyd in die buiteland was gevra wat hulle die meeste gemis het, en deur die bank sê hulle PAP. Voordat Josiah Thugwane in 1996 Olimpiese marathon kampioen geword het, het hulle 'n maandlange oefenkamp in Albuquerque gehad - hulle het iemand saamgevat om daagliks pap te maak!

In die noordelike provinsies word dit gereëld, en feitlik uitsluitlik as 'n bykos saam met braaivleis geniet. Wat net wys hoe ons kinders van Afrika geword het, al wil baie van ons dit nie erken nie! Suid van die Hexrivierberge is die ouens meer Europees, en lag hulle vir ons, maar ek het swaer Aubrey van Somerset-Wes hier by my meer as een bord agtereenvolgens sien eet. Moet dit asseblief nie in die Kaap oorvertel nie, dit kan die man se reputasie skaad!

BESTANDDELE:

Mieliemeel.
Sout.
Peper.
Tamaties, in blokkies gesny.
Uie, ditto.
Knopie Sampioene, gehalveer.
Speserye na smaak.
Kookolie.


METODE:

Bring 'n pot water waarin sout volgens behoefte ingeroer is tot kookpunt. Gooi mieliemeel by, terwyl jy aanhoudend roer. Hou aan bygooi en roer, tot jy 'n stywe geheel verkry. Dit is die ironie van ons taal dat iets wat pap genoem word, in hierdie geval styf is! Draai nou die stoof af, en laat stadig prut vir 20 minute. Oppas vir brand! As jy hom te vroeg afhaal, sal hy uiteraard rou wees, maar as jou gaste buitelanders of Kapenaars is, maak dit nie saak nie - ek het al gesien dat hulle van die 'crunchie' weergawe hou!

Vir die Sheba, of sous, braai jy die uie in 'n bietjie olie in 'n pan tot goudbruin. Dan voeg jy tamaties, sampioene, sout en peper by, en laat prut vir 20 minute, terwyl jy af en toe roer.

Nou het jy 'n heerlik vullende bykos, met geurige sous wat jy saam met jou braaivleis kan nuttig.

[Nota: Virginia Makgoba werk al die afgelope 9 jaar by ons, en het deel van die gesin geword. Sy is 'n sagte mens, en baaskok. Toe sy hier begin het, kon sy nie lees of skryf nie. Ons het haar vir volwasse onderrig gestuur, en sy studeer steeds. Sy lees nou goed, en maak die wonderlikste kos uit 'Kook en Geniet'.]