Back To main menu click here
Home

Pasta

Home

Basiese tamatiesous vir pasta

45 ml olyfolie van goeie gehalte
1 middelslag-ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
1 blik (390g) heel tamaties, gekap
15 ml tamatiepasta
2,5 ml gedroogde origanum
10 ml tot 15 ml bruinsuiker
250 ml water
250 ml gekapte vars basiliekruid
5 ml sout
2,5 ml vars gemaalde swartpeper

Verhit die olie in 'n kastrol oor medium hitte. Soteer die ui tot deurskynend. Voeg die knoffel by en soteer nog twee minute. Wees versigtig dat die uie en knoffel nie verbruin nie.
Roer die res van die bestanddele by. Bring tot kookpunt. Verlaag die temperatuur en laat prut stadig sowat 20 minute tot die sous verdik. Indien verkies, kan die sous in 'n voedselverwerker fyngemaak word. (Genoeg vir 4 porsies.)

Wenk
Die sous is heerlik oor pasta met gerasperde parmesaankaas oorgestrooi. Dit kan ook as 'n basis vir ander pastageregte gebruik word.


Noedel-en-hoenderpastei
300 g macaroni
30 ml olyfolie
1 groot ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
6 hoenderborsies, ontvel, ontbeen en in repies gesny
1 lourierblaar
2 takkies tiemie
75 ml wit wyn
200 g sampioene, in skyfies gesny
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
75 g sterk kaas, gerasper
9 eiers, geklits
30 ml dik room
75 ml gekapte vars pietersielie

100 ml basiese tamatiesous
Stel die oond op 180°C. Kook die macaroni sonder olie. Dreineer, maar moenie afspoel nie anders verloor die pasta sy klewerigheid. Hou eenkant.
Verhit die olie in 'n pan en soteer die uie en knoffel tot amper sag. Roer terwyl die hoender, lourierblaar en tiemie bygevoeg word. Giet die wyn oor. Bedek en laat prut sowat 20 minute oor matige hitte.
Voeg die gesnyde sampioene by. Kook onbedek tot die sous verdik. Verwyder die lourierblaar en tiemietakkies. Geur na smaak met sout en peper. Meng die kaas, eiers, room en pietersielie. Geur met sout en peper. Meng die helfte van die kaassous met die hoendermengsel.
Voer 'n losboompan met aluminiumfoelie uit en spuit met 'n kleefwerende middel. Pak die macaroni in die pan deur in die middel te begin en na die kante toe te werk. Giet die hoendermengsel oor. Die res van die kaasmengsel word bo-oor gegiet. Maak seker dat die pasta met die sous bedek is. Plaas in die voorverhitte oond en bak sowat 1 uur. Laat rus 'n paar minute en ontvorm. Dien op met die basiese tamatiesous. (Genoeg vir 6 porsies

Pasta met moussaka-bolaag

250 g pasta
3 uie, gekap
250 g spekvleis, in repies gesny
250 g sampioene, in skywe gesny
1 blik (410 g) gekapte, geskilde tamaties
1 kg maalvleis
3 eiervrugte, in skywe gesny en bruin gebraai

Kaassous:
30 ml botter
30 ml koekmeel
sowat 300 ml melk
250 ml sterk gegeurde kaas, gerasper

Kook pasta volgens aanwysings op pakkie tot gaar en skep in oondbak.
Stel oond op 180°C. Braai uie, spekvleis en sampioene tot gaar. Voeg maalvleis by en braai tot bruin. Voeg tamaties by en geur. Skep lae vleis en eiervrug beurtelings op pasta. Eindig met 'n laag eiervrug.
Maak die kaassous en giet bo-oor. Bak sowat 20 minute tot deurwarm.
Wenk: Jy kan ook 'n mosterdsous maak deur 30 - 60 ml aangemaakte mosterd by te voeg.