Back To main menu click here
Home Up

Skaap

Home
Up

GEBRAAIDE SKAAPTJOPS
BESTANDDELE:
2 Skaapribtjops per eter.
Sout.
Growwe Peper.
Braaivleis Speserye.
Vriend Charl.
Vriend Willem.
1 Bottel Brandewyn.
Genoeg Coke.
Genoeg Ys.

METODE:
Wag vir wanneer WP teen NOORD-TRANSVAAL speel. Skink voor die afskop vir elkeen 'n stewige. Hervul soos nodig
Rustyd steek jy die vuur aan. Sommer 'n paar bloekomstompies en houtskool - skaap hou nie van warm kole nie. Kyk nou die wedstryd verder. Onthou die Brandewyn
Na die wedstryd skuif julle vuur toe. Daar behoort nou 'n paar verdwaalde kooltjies te lê, wat vriend Charl sal laat wonder of dit genoeg is. Sê vir hom dis te veel, en drink nog 'n rondte. Skree nou vir vroulief om die res van die bestanddele te bring. Pak die tjoppies op die rooster, wat jy hopelik onthou het om skoon te brand. As die bloedjies aan die bo-kant begin uitbraai, is dit tyd om die tjoppies te draai. Op die punt is dit belangrik om daarop te wys dat dié gereg nie so goed werk by die see nie - as 'n tjop val met die draaislag, is dit makliker om die gras in die swembad af te spoel, as die sand in die see. Gooi sout, peper en speserye oor die gebraaide kant.

Op hierdie stadium sal vriend Charl erg senuweeagtig begin rondskuif - maak sy glas vol. Vriend Willem sal beurtelings na jou, vriend Charl en die glas in sy hand kyk, en dan in die skemerte in oor jou skouer staar. As jy omkyk sal 'n nagaap oënskynlik deur die lug van een boom na 'n ander loop. As vriend Willem vra of julle ook sien wat hy sien, sê jy julle sien niks. Moenie hom vertel van die telefoondraad tussen die bome nie - jy het hom so pas van 'n drinkprobleem gered.

Teen dié tyd sal jy self begin wonder of daai kooltjies dit gaan maak, en vriend Charl sal lankal moed op gegee het. As vroulief skree of julle dan nooit gaan eet nie, sê jy sy kan maar die skottel bring. Daar sal nou net as oor wees, maar jou tjoppies sal sappig en gaar wees.

Bedien saam met Pap en Sheba of Potbrood, of as jy Kaapse vriende het, Braaibroodjies.