| |
Smulpaap-hoendertert
1 gaar hoender, ontbeen en in blokkies gesny
1 blikkie (430 g) hoendersop
250 ml gaar rys of pasta
125 ml mayonnaise
2 hardgekookte eiers, gekap
1 pak (150 g) hoender- of kaas-en-uie-aartappelskyfies
Stel die oond op 180°C. Meng die eerste vyf bestanddele. Skep in 'n oondvaste
bak. Hou eenkant. Maak die skyfies fyn. Strooi bo-oor die hoendermengsel in die
bak. Plaas in die voorverhitte oond en bak sowat 30 minute.
Sout broodtert
sowat 6 snye korslose witbrood
1 blikkie (340 g) soutbeesvleis
1 gerasperde ui
250 ml gerasperde kaas
30 ml gekapte vars pietersielie
60 ml botter
60 ml koekmeel
500 ml melk
sout en peper na smaak
2 eiers
125 ml melk
Stel die oond op 180°C. Voer 'n gesmeerde oondbak met die brood uit. Meng die
soutvleis, ui, kaas en pietersielie. Berei 'n witsous van die botter, meel, melk
en geurmiddels. Meng die witsous met die soutvleismengsel. Skep die mengsel in
die uitgevoerde bak. Klits die eiers en melk saam en giet oor die vleismengsel.
Bak sowat 25 tot 30 minute in die voorverhitte oond.
Wenk
Rol die snye brood met 'n koekroller plat as dit te dik is.
|